Search
Wednesday, March 10, 2010 ..:: Club (Home) ::..   Login
 Article Details
Die Invloed Van Karate Beoefening Op Die Ontwikkeling Van Kinders. - Alet Victor B.Arb. (Pret)

Karate en ander soortgelyke sportsoorte soos byvoorbeeld Ballet, Stoei en Gimnastiek behels oefening en bewegings wat ’n groot invloed op die motoriese en perseptuele ontwikkeling van kinders het.

 

 

 

 

 

 

 
 
 

Baie kinders wat motoriese ontwikkelingsagterstande toon of wat leerprobleme op skool ervaar het al baat gevind by die beoefening van sulke sportsoorte.

Sensories en motories word veral die volgende bevorder tydens die beoefening van Karate:

  • Vestibulêr-proprioseptiewe prossesering.  Dit is die sensasie wat verkry word van die liggaam se posisie en bewegings.  Dit speel ’n belangrike rol in postuurfunksies soos spiertonus, balans, posturele agtergrondsbeweging asook skouer en nekstabiliteit wat weer ’n belangrike invloed het op growwe en fyn koördinasie.  Samewerking tussen die visuele en motoriese sisteme is hier belangrik.  Die oë rig byvoorbeeld die hand in aksie.
  • Bilaterale integrasie is die kommunikasie tussen die breinhelftes wat noodsaaklik is om die liggaam op ’n gekoördineerde wyse te gebruik, veral met opeenvolgende aksies en om die midlyn te kruis.
  • Motoriese beplanning (Praksis) is die ideevorming, beplanning en uitvoering van ’n sekere aksie of reeks aksies.  Nuwe aksies word beplan deur gebruik te maak van kennis en ondervinding van vorige bewegings.  Die tasstelsel, propriosepsie en vestibulêre sensasie is veral belangrik om hierdie kennis van liggaamsbeweging en die gebruik daarvan oor te dra.  Tydens die aanleer van ’n Kata word die kind (Karateka) elke stap/beweging afsonderlik geleer en daarna ook hoe om van een beweging na die volgende oor te gaan totdat ’n vloeiende reeks bewegings verkry word.  (Motoriese beplanning word op soortgelyke wyse tydens terapie aangeleer en ingeoefen).  Wanneer ’n kind egter veg (Kumite), moet hy die kennis wat hy tot op daardie stadium van Karate opgedoen het inspan om onbeplande bewegings uit te voer ten einde sy opponent te probeer uitoorlê.
  • Visuele persepsie kan ook verbeter word deur Karate of soortgelyke oefeninge en dan veral betreffende visuele posisie en die ruimte en ruimtelike verhoudings.  Dit is die persepsie van waar die liggaam hom in die ruimte bevind, asook die verhouding van die liggaam teenoor ander voorwerpe (of liggame).  Visuele geheue en reeksgeheue word ook bevorder, veral tydens kata bewegings aangesien ‘n kind elke beweging sien en moet onthou, maar ook die volgorde van bewegings moet onthou.
  • Konsentrasie en aandag word ook bevorder, aangesien die kind intensief moet luister en kyk wat die Sensei (afrigter) vir hom sê en wys.  Verder moet hy ook voortdurend konsentreer op elke beweging om dit korrek uit te voer.
  • Karate bevorder ook ’n kind se selfdissipline, verhoog sy eiewaarde, leer hom om saam met ander kinders te werk, maar ook om sy man te staan.  Dit help ook om van oortollige energie ontslae te raak op ’n aanvaarbare wyse.
Wanneer ’n kind deur my geëvalueer word en hy perseptuele, motoriese of konsentrasie probleme toon, bevel ek gewoonlik aan dat die kind aan ‘n sportsoort soos Karate moet deelneem om die terapie te ondersteun.  Heelwat kinders met diagnoses wat wissel van hiperaktiwiteit, leerprobleme, ontwikkelings agterstande en selfs kinders met grensgeval serebrale gestremdheid het al baat gevind by die beoefening van Karate.
 
Ek beveel dus met groot vrymoedigheid aan dat elke kind deel kan hê en baat kan vind by Karate, ongeag of hy in enige van bogenoemde areas probleme het en of dit ’n normale gesonde kind is.
You must be a registered subscriber in order to view this Article.
To learn more about becoming a subscriber, please visit our Subscription Services page.

Written By: Eagles Karate Club
Date Posted: 7/29/2007
Number of Views: 2229

Return
Error An error has occurred.
Error: Unable to load the Article Details page.


  
­© 1995 - 2010   Terms Of Use  Privacy Statement