Search
Friday, July 30, 2010 ..:: Club (Home) » Articles ::..   Login
 Article Details
Karate en die Christen - Rudi Bruwer vir Sandan Gradering (September 2000)

Die vraag of karate onchristelik is behoort by elke self-ondersoekende christen op te kom...

 

 

 

Inleiding

 

Die vraag of karate onchristelik is behoort by elke self-ondersoekende christen op te kom. Die wyse waarop die vraag dan benader word sal afhang van die persoon se geloof in sy God en sy eie belang by karate (Dit wat die sport vir hom beteken of wat hy daaruit kry). Dit is vanselfsprekend dat karate nie net deur christene beoefen word nie en die vraag ontstaan dan ook of daar enigsins godsdienstige waardes of gedrag oorgedra word met die beoefening van karate.

 

Ek het dit nodig geag om die nodige verwysings en inligting bymekaar te maak nadat ‘n student my ‘n pamflet, wat by ‘n skool versprei is, getoon het. Die pamflet het uitgevaar teen karate en selfs sover gegaan as om te sê dat mense wat karate beoefen, ondersteuners van satan is. Die pamflet het sulke onkunde van karate getoon dat dit lagwekkend was. Wat my egter bekommer het was dat selfs ouers wie se kinders al lank karate beoefen het, van die argumente geglo het. Die gevolg was dat ek gekonfronteer was deur ouers wat meer inligting wou hê. Dit het ek met graagte gaan soek en uitgedeel. Wat my ongelukkig maak is dat sekere ouers nie die moeite gedoen het om te vra of om meer uit te vind nie en sumier die karate beindig het. Sulke ouers is dan ook die lede van die publiek wat vir ander vertel hoe sleg karate is. Dit is noodsaaklik dat ons die misverstande uit die weg ruim, positief of negatief. Nie net vir ons sport nie maar ook vir ons geloof.

 

Ek gaan kortliks poog om ‘n paar van die belangrikste kwessies rondom karate en godsdiens te bespreek en hoop om lig op die onderwerp te plaas, nie net vir die karateka wat homself teen beskuldigings moet verdedig, of die afrigter wat verdere inligting moet verskaf nie, maar ook vir die Christen wat objektiewe inligting benodig om vir homself te besluit waar sy godsdiens en sport bymekaar kom.

 

Ek is nie gekwalifiseer om uitlatings aangaande Bybel tekse te maak nie, maar glo dat ek met gesag oor karate kan praat. Die meeste van die geskille behels egter suiwer tegniese punte en daarvoor gee ek telkens die nodige verwysings van bronne. Dit is vir my interresant dat die vele predikante, wat openlik gekant is teen karate, en met wie ek al oor hulle mening wou gesels het, nie bereid was om met my daaroor te praat nie. Dit is jammer dat “geleerde” individue nie bereid is om te luister na die ander kant van ‘n saak alvorens hulle hulle idees propageer as die waarheid nie.

 

Die opinies en gevolgtrekkings hierin is my eie en tensy ander vermeld weerspieel nie die mening of amptelikke posisie van enige organisasie of individu nie. Enigeen is welkom om van my te verskil en ek nooi almal uit om verdere inligting, kommentaar of kritiek aan my te rig.


Simbole

 

Die eerste aspek waaraan gewoonlik aandag gegee word is simbole, en meer spesifiek die “Yin” en “Yang”. Die algemene gevolgtrekking is dat godsdienstige simbole gebruik word om ‘n persoon verder te indoktroneer en dat blote gebruik van so ‘n simbool ‘n individu verbind tot ‘n sekere geloof.

 

Die Yin – Yang is volgens die “Dictionary of symbols” van JE Cirlota helicoidal symbol that brings opposites together and engenders perceptual motion and continuity in situations characterized by contradiction”. Die beste verduideliking is my insiens dat dit teenoorgesteldes verteenwoordig bv. Dag en nag, goed en sleg ens. ‘n verdere idée is dat dit beteken dat daar ‘n bietjie goed in sleg en ‘n bietjie sleg in goed is, word ook bygevoeg. Dit sou beteken dat niks heeltemal goed of sleg is nie. Een van die sewe hoofreëls van die Yin-Yang, is dat daar net een ding is waarvan ons seker kan wees en dit is dat alles verander. Die Bybel sê egter vir ons dat God nie verander nie: “ Ek, die Here het nie verander nie, daarom het julle nie ten gronde gegaan nie…” (Maleagi 3:6). Argumente daarteen is ook dat God en Satan wel teenoorgesteldes is, maar dat daar nie sleg in God of goed in Satan is nie.

 

As ‘n mens in ag neem dat hierdie simboliek ook in ander tekens voorkom moet ‘n mens bevraagteken of die simbool korrek geinterpreteer word. Die kruis word in die “Dictionary of Symbols” beskryf as “In sum, the most general significance of the cross is that of conjunction of opposites: the positive and the negative…”. Omdat die lyne mekaar kruis kan ons dieselfde argument gebruik dat dit dieselfde beteken?. Selfs skaak het sy oorsprong in Indië en verteenwoordig die stryd tussen goed en sleg. Die koning verteenwoordig die son en die koningin die gees. (Alhoewel dit nie die twee bymekaar bring nie, is dit tog vermeng).

 

Die vraag of die blote gebruik van ‘n kruis ‘n persoon ‘n christen maak is onomwonde, Nee, maar kan ons dieselfde sê van alle simboliek? Weet ons dat die trouring aan ‘n vrou se vinger simbolies is van die enkel kettings wat vrouens gedra het om te keer dat hulle weghardloop van hulle mans. Beteken ons onkunde dat ons nogtans die idee ondersteun. Verskeie denkskole in die verband glo egter dat selfs die onbewustelikke gebruik van simbole deure oopmaak vir demone en dat dit liefs vermy moet word.

 

Ki”

 

Die Harper Collins Dictionary of Religion beskryf ki as “matter-energy, material force, root meaning is breath” Die word Kiai beteken Ki – energie en ai – los /uit te laat, dws direkte vertaling om energie vry te stel.

 

Een van die argumente wat ek al gehoor het was dat karateka ‘n god met die naam ki aanroep elke keer wat hulle Kiai. Na deeglike ondersoek het ek geen verwysing gekry van enige entiteit met die naam ki nie.

 

Kevin Ekert skryf in sy boek “The Curses and Bondages of Martial Arts”: “Ki means "Universal spirit"… All martial arts use Ki-power in performing the Arts. It is said the power of Ki is inhaled into the lower abdomen, and exhaled through the hands, when the psychic powers of men are united with spirit and body. The Christian knows that this is demon power. It is interesting to note that the abdomen is the place where demon spirits congregate."

 

Aikido afrigter Sensei Koichi Tohei. Beskryf ki soos volg: "Ki has no beginning and no end; its absolute value neither increases nor decreases. We are one with the universe, and our lives are part of the life of the universal." Hierdie siening weerspieel ‘n panteistiese seining wat glo dat daar ‘n energie in alle natuur is en dat die natuurlike energie gebruik kan word.

 

Die algemeenste argumente teen ki is dat ki nie inherent teenwoordig is nie en dat daar ander magte betrokke is. Daar word erken dat sekere aksies wel binne perke van die liggaam se vermoë val maar dat veel sterker magte nodig is om sekere tegnieke / aksies te doen. Verstaanbaar is daar uiterste in alles. Maak die feit dat iemand sy ligaam voor berei om ‘n vliegtuig te kan sleep, hom vatbaar vir die idee dat hy demoniese kragte gebruik, of is dit sy eie fisiese en geestelike vermoëns?

 

Die Oxford Companion to Sports and Games beskryf ki as volg: “to generate maximum speed, the striking limb is kept relaxed until immediately before impact. On impact the body tenses and the karateka emits a yell (translated into Japanese as Kiai) which is propelled by the tensening of the muscles of the lower diaphragm”. Vir my as karateka beteken hierdie die effektiewe gebruik van die liggaam se energie soos wat ‘n gewigopteller sy energie konsentreer wanneer hy swaar gewig optel. Die moontlikheid dat daar wel individue is wat verdere energie uit die omgewing kan trek of dat daar demoniese kragte te werk gaan is sekerlik nie onmoontlik nie, en indien dit in lyn is met hulle geloof, heel waarskynlik.

 

Buiging

 

In ‘n amptelike ondersoek wat geloods is deur die NG sinode in N-Tvl skryf Andries Gous: “ op die bevel “ Shindanmirai” wat beteken “ons buig voor god”, buig die klas”. Hy haal dan ook een van Dojo leuses aan: “ we will follow our gods and buddha…” Dit is inligting soos die wat mense bang maak vir die onbekende. Hier kom ‘n oënskynlike geleerde individu en hy weergee inligting wat my insiens so ver verwyder is van die waarheid dat dit skrikwekend is. Weereens wys dit vir my dat mense liewer ander se opinies glo as wat hulle self ondersoek instel of dink.

 

Dat hierdie eenvoudige beweging so verkeerd verstaan word is vir my snaaks. Ek wil dit amper nie regverdig deur eers komentaar daaroor te lewer nie. Soos ons reeds weet is ons buiging ‘n teken van respek en nie een van onderdanigheid nie. Dit is soos ‘n groet, want in die oosterse lande word daar so gegroet. Hulle aanbid tog seker nie mekaar ook nie. Indien karate in die weste ontwikkel het sou ons soos die boksers hande geskud het. In die verlede het selfs die Westerlinge al vir mekaar gebuig, al was dit net die hoof wat laat sak was, as teken van respek en ‘n groet. Hulle buig tot in ons eie parlement en hof, wie aanbid hulle, of is dit werklik net ‘n teken van respek.

 

Die oningeligte kan natuurlik nie verstaan wat aangaan nie en as hy sien hoe twee mense vir mekaar buig en iets sê wat hy nie verstaan nie, dan is dit verstaanbaar dat hy bekommerd kan raak. Dit is egter “wyse” mense se “ondersoeke” en opinies wat ons meer skade berokken, want nou glo die man, wat nie die tyd het om self ondersoek te stel daarin nie, dit as die waarheid.

 

 

 

Meditasie

 

Die Webster Dictionary gee die definises van meditasie as volg: “ 1. solemn reflection on sacred matters as a devotional act. 2. to think, to plan, instead, or to think deeply and continuously reflect.” Selfs die Bybel ondersteun meditasie en noem die volgende voordele: 1. Begrip (PS. 49:3) - 2. Geestelike tevredenheid (PS. 63:5,6) en 3. Kennis (Ps. 119:99). Waaroor daar gemediteer word is die besluit van die beoefenaar. Die meditasie soos hierbo genoem is nie ‘n metode om jouself “leeg” te maak sodat demone ens. beheer oor jou kan nem nie. Ek self probeer onderskeid tref tussen meditasie en visulisering en weereens is daar verskeie opinies en definisies van die twee amper eenderse terme. Ek sien meditasie as ‘n denk proses waar die onderwerp deurdink word terwyl visualisering ‘n verbeeldings proses is waarin jy jou verbeelding gebruik om om of probleemsituasies op te los of voorbereiding te doen.

 

Daar is seker mense wat mediteer met die doel om aan niks te dink nie, soos voorgestel deur die Eppistello: “In die Oosterse meditasie moet die persoon sy gedag-tes leegmaak van alles. Hierdie soort meditasie is heeltemal teenstrydig met die Bybel­se meditasie.  Geen mens kan iets oordink wanneer hy sy gedagtes reeds leeggemaak het nie.”

 

Visualisering kan ook volgens hulle ‘n gevaar inhou indien daar gebruik gemaak word van “Spirit guides”.D Groothuis waarsku as volg: “An elaborate visualization exercise could induce an altered state of consciousness quite amenable to demonic insurgents.  Shakti Gawain, sê ook “the ‘creative visualisation’ can easily introduce us to ‘spirit guides,’ the likes of which would be thrilled to meet us.”
Dit bly egter ‘n erkende metode vir voorbereiding van sportmanne deur die hele wêreld.

 

Inoefening

 

Die herhaling van ‘n oefening sodat dit onbewustelik (of sal ek sê meer intensief) gedoen kan word, is ook vir diegene wat teen karate gekant is ‘n groot probleem. Hulle voel dat indien ‘n tegniek onbewustelik uitgevoer word, daar geen denke plaasvind nie en dat ‘n individu daarom vatbaar is vir allerhande demone. Hulle besef nie dat dit maar bloot dieselfde is wat gebeur wanneer ‘n persoon motor bestuur, fiets ry of swem nie. Sekere mense sal bv in die oggend opstaan, koffie maak en sekere gewoontes outomaties uitvoer alvorens hulle behoorlik wakker is.

 

Hierdie proses is bloot ‘n respons wat verkry word indien ‘n sekere aksie herhaal word. Hoe meer ‘n daad of aksie herhaal word, hoe sterker is die prent wat in die geheue en brein ingeprent word. Hierdie einste brein kan dan die liggaam tot aksie dwing wanneer ‘n sekere stimilu ontvang word, sonder om ‘n spesifieke opdrag van die brein te ontvang.

 

Getuienis

 

Persoonlike getuienis vir en teen karate is volop. Die treffendse is gewoonlik die van ‘n karateka wat na jare se getroue oefening (moontlik nasionale kleure ens) besefsy lewe bestaan net uit karate en dat die res van sy lewe bv gesin, godsdiens en werk daaronder gelei het.. Hy kom dan tot “bekering”, los die karate en sy hele lewe verander vir die beter. Dan maak hy die gevolgtrekking dat dit karate satanies was en daarom het sy lewe verval. Hy vaar dan uit teen karate en vertel vir almal hoeveel sy lewe nou verbeter het. Hierdie is die algemeenste getuienis wat ek kon opspoor en snaaks genoeg weeg dit veel swaarder as die duisende getuienisse oor karateka wat karate beoefen en nog steeds aandag gee aan hulle gesin, geloof en werk. My reaksie op hierdie is gewoonlik dat as hy al sy tyd in ‘n ander sport ingesit het, sou hy dieselfde resultate gekry het, met die verskil van wanneer hy begin uitval het met die rugby sou hy nie so ‘n “edel” verskoning gehad het oor hoekom hy die res van sy lewe verwaarloos het nie.

 

Somtyds dink ek dat die algemeenste fout wat mense maak met redenasies is dat hulle dit onlogies benader. Dit was dalk nie die karate (of moet ek sê die okkulties verwante aktiwiteit) wat sy lewe beinvloed het nie maar die aantal tyd wat hy daaraan spandeer het, dws sy prioriteite. Toe hy sy prioriteite aanpas, het dinge weer verander.

 

Opsomming

 

Die engelse digter Charles Colton (1780 – 1832) het geskryf “Men will wrangle for religion, write for it, fight for it, anything but live for it”. Ek glo dat ons, as Christene, wel moet ondersoek instel, maar ook dat ons objektief moet bly en nie onnodig satan in alles raak sien nie.

 

Daar is vele opinies en idees, somtyds is hulle lagwekkend terwyl daar ander is wat rede tot kommer is. Daar is ook die argumente wat ewe oorredend is daarvoor en daarteen, wat besluitneming baie moeilik maak en verdere ondersoek noodsaaklik maak. Die bronne is ook legio en natuurlik hang dit af van die individu se keuse van watter bron en verduideliking hy gaan glo.

 

Dat daar wel gevare verskuil is in die Oosterse gelowe is vir my duidelik. Dit is maklik om in een van die strikke te trap in die soeke na meer krag, spoed of mag. Of die oosterse gelowe egter gekoppel kan word an die blote beoefening van ‘n oosterse gevegkuns is ek nie so seker van nie. In die navorsing het baie interresanthede opgeduik wat ek wel in gedagte sal hou wanneer dit my pad kruis in karate. Ek het gelet op ‘n paar idees en waarskuwings terwyl ek uit ervaring talle ook afgeskryf het as onkundige heksejaery.

 

Ons moet egter ook besef dat dit nie al is waar die gevare lê nie en ek dink meer karateka word omkant gevang deur ander afgode as karate. Ons moet bewus wees van die gevare maar dit beteken nie ons hoef op te hou met ons sport nie. Ek glo dat ons, soos wat ons karate beoefen, gerus kan wees in die wete dat ons nogsteeds ons God kan dien. Dit behoort gerustellend te wees om te weet dat daar verskeie Christelike karate organisasies in die wêreld is. Die “Gospel Martial Arts Union” en die “Karate for Christ” organisasies om maar ‘n paar van die organisasies te noem wat hulle beywer vir die uitbreiding van christenskap onder karateka.

 

Dit is ons plig as afrigters om te verseker dat ons weet waaraan ons ons studente blootstel, en meer belangrik dit is ons plig as christene om seker te maak dat dit wat ons aan ons studente oordra hulle nie skade kan berokken. In die tyd waar dit as verkeerd gekenmerk word om te “dweep” oor ons godsdiens, moet ons besef dat ons nogsteeds ‘n opdrag het om uit te voer. Alhoewel ons nie direk ons godsdiens in ‘n klas propageer nie, glo ek dat ons in ideale posisies is om ‘n voorbeeld te stel, en lewens te verander, deur ons christelike beginsels uit te leef. Selfs in ons na-uurse aktiwiteite word ons dopgehou en kan ons ‘n voorbeeld wees. Deur ons dade sal ons meer sê oor ons Christenskap en heel moontlik ‘n groter invloed hê as iemand anders wat daagliks daaroor praat.

 

 

 

Bronne

 

Die Bybel in Praktyk

Satan en sy werkinge: Karate (NG Sinode N-Tvl – Andries Gous)

The Harper Collins Dictionary of Religion

An Illustrated Encyclopaedia of Traditional Symbols (JC Cooper)

Webster’s Sport Dictionary

The Oxford Companion to Sports and Games (John Arlott)

A Complete Illustrated History of Martial Arts (Michael Finn)

You must be a registered subscriber in order to view this Article.
To learn more about becoming a subscriber, please visit our Subscription Services page.

Written By: Rudi Bruwer
Date Posted: 7/29/2007
Number of Views: 1016

Return
Error An error has occurred.
Error: Unable to load the Article Details page.


  
­© 1995 - 2010   Terms Of Use  Privacy Statement